parallax background

My nuwe album ‘Die Heelal Draai’ is op pad

Die Kazi tot Kazi fees
May 6, 2014
 
E k is tans besig met die opname van my nuwe album, Die Heelal Draai, by African Sun Studios in Durbanville, in samewerking met die manne van die Musiek en Wynparing. Die eerlike, gestroopde klank is op die Fadista-styl gebaseer. Die Fadista-styl is 'n Portugese musiek-genré, gekenmerk deur temas soos hartseer en verlange en wat tradisioneel begelei word deur drie of vier mense op snaarinstrumente. Die Afrikaanse kabarettoneel herinner baie aan Fadista, en dis waarskynlik waarom ons dit uit 'n natuurlike, tog vars, perspektief kan interpreteer. Die album is "gebore" toe Gertie van die Noord-Kaap (ek het haar toe nog nie geken nie) my gebel het om my te vertel dat mense wat baie sensitief is, soos sy vermoed het ek was, baie swaar deur die lewe gaan. Ek het af gevoel daardie dag en haar oproep het my beter laat voel. Sy het kort daarna vir my gedigte begin stuur. Ek was op daardie stadium doenig met 'n vertoning by die Garden Route Casino in Mosselbaai oor Portugese musiek. Ek het begin oplees oor die Fadista-styl en een van haar gedigte, Akkerblare, in dié styl getoonset. En so het alles begin. Schalk Maas, verhoognaam Soetmelk Maas, is die vervaardiger en verskyn ook op die album. Jorina Kriel Maas, wat die omslagfoto’s behartig, het ons afgeneem in die ateljee. Ek sien ongelooflik baie uit om die album met julle almal te kan deel.