Die Heelal Draai

Loading tracks...

Petronel Baard se jongste album, Die heelal draai (Lang Vrou-produksies) behoort met elke denkbare musiektoekenning vir Afrikaanse musiek bekroon te word; beoordeel op grond van artistieke meriete. Dis ‘n album wat nie net krities beïndruk nie, maar ook luisterryk bevredig.

Sy besing die lewe en haar mense, die passie en die pyn, die  onverwagse draaie, die verrassings en helaas, ook die onvermydelike; afskeid.

Deel van die album se bekoring is die feit dat dit nie selfsugtige, egosentriese selfverheerliking is nie. Die eiesoortige, universele albumklank – gekap aan die Portugese Fado, maar  tradisioneel-stilisties in Afrikaans en in Afrika gesetel – is die resultaat van musikale samewerking.

Die intieme produksie is deur Petronel se jarelange musiekvennoot Schalk Maas, met insette deur David Cruikshank, by Africa Sun Studios in Plattelkloof, opgeneem en deur Phillip Pels gemeng; lewend, sónder rigiede tegniese beperkings.

Alles is oorspronklik, met tussen die hoogtepunte, Petronel se toonsettings (met toestemming) van die digter Antjie Krog se werk: Hier dien die musiek die vers in volledigheid: inhoud, stemming en struktuur.

Inteendeel, elke noot hierop, ook in haar eie nuutskeppinge, het doel. Die liriese stiltes, veral, ook. Dit is akoestiese kuns.

Petronel se formidabele stemvermoëns is deurgaans boeiend en uitdagend en haar kabaret-aanslag is skitterend.

Haar kabaret-aanslag skitter op die smeulsnit, Nita se blues (Anita Jonker se woorde; Petronel se musiek en klavierspel deur Hanli Cruikshank).

Die klank is deurgaans vars, onverwags en verfrissend.

Schalk Maas se musikale verwerkings, albumregie, mondfluitjie en trekklavier ontgin en verewig ‘n musikale erfenis. Sy folknuutskepping, Liefde van eensaam (wat hy in duet met Petronel uitvoer), is ‘n melancholiese juweeltjie; nostalgies verwerk met die kenmerkende tregterklank van die destydse grammofoon en die naaldgeruis op viniel.

Altan Ungerer se baskitaar en perkussie, André Janse van Vuuren se trekklavier en Boesman Keyser se saxofoon (op die snit Ma) komplementeer die stemming en styl van elke lied.

Dié meesleurende musikale reis word afgesluit met die instrumentale snit, En draai, ‘n meesterlike klaviersolo; kenmerkend aan dié musikant se sonderlinge klawerbenadering; opgedra aan haar onslape pa, Bertie.

Hier is minder meer, eenvoud veelvuldig en artistieke integriteit  die stempel van meesterskap.

Saam met Jorina Kriel-Maas en Wilhelm Vincent se fotografie en kunsregie  is Petronel Baard se album Die heelal draai bloot die mooiste  mooi nóg!

Die album is aanlyn beskikbaar, by haar vertonings en kan ook bestel word by langvrou@gmail.com.

Resensie deur Christiaan J de Swardt

VIDEO AKKERBLARE SNIT